Die Letsemeng-munisipaliteit in die Vrystaat moet alle uitstaande skuld vir elektrisiteit aan Eskom betaal, het die appèlhof in Bloemfontein vandeesweek bevind.
Daarbenewens moet die munisipaliteit, wat dorpe soos Koffiefontein, Jacobsdal, Luckhoff en Petrusburg insluit, alle uitstaande skuld ingevolge ’n ooreenkoms wat hulle vroeër met Eskom aangegaan het, betaal, asook R5 miljoen wat die nasionale tesourie beskikbaar gestel het vir die munisipaliteit se skuld aan Eskom.
Die uitspraak volg nadat Eskom hom tot die appèlhof gewend het nadat ’n teenaansoek oor betaling van uitstaande skuld in die hooggeregshof in Bloemfontein afgewys is.