Die maandelange waterkrisis in Winburg, waar die water gereeld ’n modderbruin kleur soos die naweek gekry het en soos DDT-gif ruik, inwoners wat self vullis moet verwyder en slaggate waarin jy kan swem, wil die inwoners teen die mure uitdryf.
So sê Michael Landsman, direkteur van Lisawell, ’n gemeenskapsdiensorganisasie sonder winsbejag in Winburg. Hy sê ’n taakspan van Lindiwe Sisulu, minister van water, sanitasie en menslike nedersetting, het onlangs weer die dorp besoek oor die klagtes oor die water, terwyl die munisipaliteit verlede jaar ’n kontrakteur aangestel het om die waternetwerk op te gradeer.
“Die water is vuil, het ’n modderige kleur en gereelde onderbrekings met die waterlewering kom voor sodat die inwoners van die dorp en sy township, Makeleketla, steeds gereeld sonder water sit.