Wetstoepassers het die afgelope week kennisgewings oor die verbod op vuurwerk by winkels in George aangebring en boetes van meer as R12 000 opgelê vir die verkoop van vuurwerk.
Roland Hardnick, Daniella Laws en Verona Botha het meer as 95 winkels besoek en drie boetes van R4 500 elk uitgereik.
George het streng wetgewing oor vuurwerk en die munisipale verordening bepaal dat niemand vuurwerk mag afvuur buite ’n toegewysde gebied nie. In George is daar nie so ’n gebied nie en enigiemand wat vuurwerk of fakkels afvuur of Chinese lanterns aan die brand steek, kan met R1 000 beboet en van brandstigting aangekla word. Die afvuur van vuurwerk en die skiet van klappers word verbied weens die hoë brandgevaar in die gebied.