Pres. Mokgweetsi Masisi van Botswana loop onder hewige kritiek deur oor sy regering se stilswye oor die meer as 400 olifante wat in die afgelope twee maande in ’n deel van die Okavango-delta dood is.
Bewaringsorganisasies en omgewingsaktiviste is woedend vir die regering weens sy “traagheid” om te bepaal waaraan die diere dood is. Van hulle beskuldig Masisi daarvan dat hy die oorsaak van die olifante se dood onder ’n mat probeer invee.
Die bewaringsorganisasie Botswana for Elephants (BFE) het gister in ’n ope brief ’n beroep op Masisi gedoen om persoonlik betrokke te raak by die kwessie omdat dit van wêreldbelang vir die bewaring van die natuur en olifante is.