Om te keer dat biodiversiteit heeltemal ineenstort, sal $348 miljard jaarliks oor die volgende drie jaar nodig wees om vernietigde grond-, water- en mariene bronne te herstel.
Luidens die verslag “State of Finance for Nature”, wat deur die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram (Unep) uitgereik is, word daar tans tussen drie en sewe keer soveel geld aan handelinge bestee wat die natuur vernietig (soos mynbou en grootskeepse visserye) as aan die bewaring en herstel van grond, water en die oseaan.
“Die natuur is heeltemal ondergefinansier. Om die biodiversiteitsverlies te keer, ’n styging in die aarde se temperatuur tot minder as 1,5 °C te beperk en die vernietiging van die grond en oseaan stop te sit, sal beleggings in die natuur (wat tans sowat $133 miljard beloop) teen 2030 moet verdriedubbel.”