Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku oor toestande Saterdag wat bevorderlik is vir wegholveldbrande in Namakwa in die Noord-Kaap, die Weskus-distrik, die Kaapse Wynlande, Sentraal-Karoo asook die Klein-Karoo, die Overberg-omgewing in die Wes-Kaap en die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit in die Oos-Kaap.
Uiters warm toestande word ook tot Sondag in die Kamiesberg-munisipaliteit in die Noord-Kaap, die binneland van die Weskus, die Kaapse Wynlande asook die Sentraal- en Klein-Karoo in die Wes-Kaap verwag. Hittegolftoestande kan verwag word in die suidelike hoogliggende gebiede van Namakwa in die Noord-Kaap, die Kaapse Wynlande, die binneland van die Weskus, die Kaapse metropool, die Theewaterskloof- plaaslike munisipaliteit en die Klein-Karoo.
’n Waarskuwing is ook uitgereik vir onstuimige seedeinings tussen Plettenbergbaai en Cannon Rocks. Dié toestande sal na verwagting van Saterdag laatmiddag tot middernag duur.