Gelowiges in Suid-Afrika wil nie deel wees van ekomoord nie, skryf verteenwoordigers van verskeie gelowe in ’n ope brief aan die regering.
“Daarom sal ons nooit stilbly oor Shell se hebsugtige vernietiging van ons kosbare Wildekus nie,” skryf André Naidoo, ’n tradisionele Khoi, Cele Esau, verteenwoordiger van verskeie geloofsgroepe (Unitarian), en Lydia Petersen, ’n Christen, in hul brief aan Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, en Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye.
Natasha Adonis, woordvoerder van die Southern African Faith Communities Environment Institute (Safcei), het gister gesê die geloofsleiers het die brief aan Creecy en Mantashe geskryf om hul misnoeë te kenne te gee omdat dié twee ministers Shell toelaat om aan die Wildekus na fossielbrandstowwe te soek en dít juis in ’n tyd waar die res van die wêreld van hierdie gevaarlike energiebronne wegbeweeg. Die geloofsleiers skryf hulle is met afkeer vervul omdat die Suid-Afrikaanse regering ’n energiebron verkies wat die natuurlike omgewing beskadig.