Daar is kommer oor die stabiliteit van die grond in KwaZulu-Natal (KZN) nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens gewaarsku het oor die swaar reënval wat Saterdag in die provinsie verwag word.
Die Weerdiens het Vrydagmiddag aan Netwerk24 bevestig dat hy ’n oranje vlak 5-waarskuwing oor swaar reënval langs die kuslyn van KZN uitgereik het, sowel as ’n geel vlak 2-waarskuwing vir die binneland.
Daar word veral gewaarsku teen moontlike vloede en modderstortings weens die swaar reën, wat deur ’n afsnylaag-laagdrukstelsel meegebring sal word. Dit sal met uiters lae temperature gepaardgaan.