Die langverwagte nuus uit die binneland is dat die Gariepdam se water gisteraand oor sy wal begin stroom het.
’n Video van die skouspel wat op Oviston se Whatsapp-groep gedeel is, wys hoe die waters bruisend oor die wal aan die Oranjerivier se kant afstort.
Dit kom nadat die Gariepdam, Suid-Afrika se grootste opgaardam, se watervlak die afgelope week van 94% tot 99% gestyg het. Teen Donderdagaand was dit 100% vol.
Die boodskap was dat die foto om 18:15 geneem is.
Die styging is te danke aan wydverspreide reën wat veral in die Vrystaat geval het.
Die dam, wat in die Oranjerivier gebou is, se watervlak het verlede jaar dié tyd op 65% gestaan.
Die Gariepdam kan 5 340 000 megaliter water opberg en beslaan ’n oppervlakte van 374 km².
Die Oos-Kaap is baie afhanklik van water uit die dam en water word van hier vrygelaat wat met kanale en watertonnels in die Grootvisrivier en Sondagsrivier vloei om Port Elizabeth en ander gebiede in die Oos-Kaap se waterbehoeftes aan te vul.
Die Gariep- hidro-elektriese kragstasie word gebruik om 360 megawatt krag op te wek.
Ander damme in die binneland het ook die afgelope twee weke baie water gekry nadat dit sedert Desember goed in die Vrystaat gereën het. Die laaste tyd reën dit aaneen.