Elsa, die leeuwyfie van die Zanchieta Wild Cat Farm buite Bloemfontein wat vroeër bekendheid verwerf het toe sy twee nekoperasies ondergaan het, sterk by die huis aan nadat artritis in haar C4-nekwerwel onlangs by haar gediagnoseer is.
Elsa, nou sowat 12 jaar en ses maande oud, was skaars een toe sy in 2010 twee nekoperasies in die Wilgeheuwel-hospitaal in Johannesburg moes ondergaan nadat ’n gedeelte van haar nekwerwel gebreek het en teen ’n senuwee gedruk het. Dit het meegebring dat haar bene meegegee het en sy aanhoudend geval het. Met die tweede operasie het nog ’n nekwerwel afgebreek en teen die leeuwyfie se rugmurg gedruk.
Miekie Wiese van Tonder, Elsa se mensema en diereversorger by die plaas, sê hulle het die afgelope week agtergekom dat Elsa swaar loop en haar agterlyf sleep.