Massas rou rioolvuil vloei glo al maande lank in die Gariepdam, Suid-Afrika se grootste opgaardam, en ’n plaaslike rivier weens stukkende toerusting by twee rioolsuiweringsaanlegte.
En die bestuur van die Joe Gqabi-distriksmunisipaliteit “steek die probleem weg vir die nasionale departement van menslike nedersettings, water en sanitasie, te midde van groot gesondheidsrisiko’s vir mens en dier wat drinkwater uit die Gariepdam en die rivier ontvang”.
Só sê twee Oos-Kaapse DA-raadslede, Marina van Zyl van die Joe Gqabi-distriksmunisipaliteit, met sy hoofsetel in Barkly-Oos, en Matthee Nel van die Walter Sisulu-munisipaliteit (onder meer Oviston en Venterstad), in ’n verklaring.