Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, die polisie en ander nooddienste moes Saterdagaand in ’n nag van hoogdrama talle inwoners in die eThekwini-metro uit hul wonings verwyder nadat modderstortings weer op vloede gevolg het.
Die vloede en modderstortings was die gevolg van ’n afsny-laedrukweerstelsel wat sy greep Saterdagoggend in die provinsie versterk en swaar reën Saterdag en Sondag in die gebied én in ander munisipaliteite veroorsaak het.
Tot 300 mm reën is in die eThekwini-metro gemeet.