“Niemand van ons leef vir ewig nie.” Met dié woorde het koningin Elizabeth Maandag nie net afgevaardigdes by die COP26-klimaatberaad in Glasgow, Skotland, verwelkom nie, sy het ook erkenning gegee aan die kommer oor haar gesondheid.
Sy het haar kort boodskap, wat verlede week in die Windsorkasteel opgeneem is, afgesluit met die woorde dat “niemand van ons vir ewig leef nie, maar dat die klimaatberaad iets is wat ons doen vir ons kinders en ons kinders se kinders, en diegene wat in hul voetspore gaan volg”.
Die koningin, geklee in groen met haar vlinderborsspeld, een van haar trougeskenke, het voor ’n tafel gesit waarop ’n foto was van prins Philip wat omring is deur vlinders. Dié foto is in 1988 ten tyde van ’n besoek aan Mexiko geneem.