“Hier in die Boesmanland gaan hoop nooit dood nie, anders gaan jy dit nie maak nie,” sê Helene van Wyk nadat sowat 10 mm reën, die eerste reën in twee jaar, sedert Donderdag op die plaas Opdamkolk uitgesak het.
Hier het die son die afgelope agt jaar die vlaktes soos kaiings uitgebraai. Daar is net stof, klip en die verlore geblêr van ’n paar ooie oor.
Hoewel goeie reën vanjaar in die ooste van die Noord-Kaap en in die Vrystaat uitgesak het, gaan dit nog beroerd hier en in die Roggeveld.