’n Vrou wat moeg baklei was weens ’n jare lange huishoudelike twis het ’n diepe innerlike vrede verkry deur die besoedelde Hennopsrivier in Centurion skoon te maak.
Tarryn Johnston (45) woon sowat 1 km van dié rivier in die woonbuurt Die Hoewes in Centurion. Hennops Revival, haar organisasie sonder winsbejag, het al vele pryse gewen omdat haar vrywilligers met die hulp van munisipale werkers rommel uit die rivier haal.
Johnston het dié organisasie in November 2019 gestig. In die eerste twee jaar van die organisasie se bestaan is bykans 1 500 ton rommel uit die rivier gehaal. “Om die Hennops skoon te maak is om ’n pleister op ’n gapende wond te plak. Jy kan een plek skoonmaak, maar dan lyk dit die volgende dag soos voor jy dit skoongemaak het.