Suid-Afrika is een van die morsigste lande en sukkel om sy eie plastiekrommel te behartig, maar die regering oorweeg nietemin die moontlikheid om ander lande se ou gebruikte plastiek in te voer.
Die Wêreldnatuurfonds (WWF) sê in sy onlangse verslag Plastics: The costs to society, the environment and the economy dat 79 000 ton afvalplastiek jaarliks in Suid-Afrika se natuurlike omgewing beland. Die WWF sê die afvalbestuur is swak en voeg by: “Die land steier onder afval.”
Desondanks het Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, in antwoord op ’n vraag van David Bryant, die DA se woordvoerder oor dié portefeulje, laat blyk haar departement is onseker oor of hy ’n internasionale aksieplan oor plastiek ondersteun.