Die groenseeskilpad Bob wat vroeër vanjaar aan die KwaZulu-Natalse kus vrygelaat is nadat hy by die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad gerehabiliteer is, het reeds meer as 2 000 km sedert sy vrylating afgelê.
Bob is in 2014 na die Twee Oseane-akwarium gebring nadat hy in ’n verswakte toestand by die De Hoop-natuurreservaat gevind is.
Daar was aanvanklik kommer of Bob ooit weer in die see vrygelaat sou kon word onder meer weens breinskade wat hy opgedoen het toe ’n infeksie na sy bloed versprei het, het die akwarium vroeër gesê. Maar sowat twee jaar gelede het sy natuurlike instinkte na vore begin kom in reaksie op omgewing-stimulasie. Hy is op 27 Januarie by Durban in die see vrygelaat nadat hy van Kaapstad af na uShaka Marine World gevlieg is waar hy voor sy vrylating aangehou is. Hy is ook met ’n opsporingstoestel toegerus sodat sy bewegings gemonitor kan word.