Die Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital (JWVH) het strafregtelike klagte ingedien teen mense wat ’n uitgehongerde skilpad in ’n metaalhok in Kagiso, naby Krugersdorp, aangehou het. Veeartse moes ingryp om die skilpad, wat ook erg gedehidreer was, te red.
Wendy Willson, dierekonsultant by die JWVH, sê hulle ontvang dikwels skilpaaie wat deur motors getref, mishandel of uit die natuur gevat is. Die JWVH het onlangs vir die publiek gevra om vetplante aan die hospitaal te skenk. Dit word gebruik om die skilpaaie mee te voer. Willson sê skilpaaie wat aangehou word, word byna altyd diëte wat hoog in suiker en laag in vesel is gevoer. As hulle dit vir ’n lang tyd eet vrek hulle.
In ’n ander geval van ernstige wreedheid is booswigte vasgetrek wat ’n uilwyfie van haar nes af gesteel en toe by ’n winkelsentrum in Roodepoort probeer verkoop het.