EnerGeo Alliance (EnerGeo) en die African Energy Chamber (AEC) het Suid-Afrikaanse natuurwetenskaplikes en regsgeleerdes Woensdag daarvan beskuldig dat hulle “verdraaide inligting” versprei oor die aard van seismiese toetse wat vir die oseaan rondom die land beplan en reeds gedoen word.
EnerGeo en die AEC beskuldig die Suid-Afrikaners ook van “kortsigtigheid”.
Die groep van 11 mariene wetenskaplikes en regsgeleerdes, wat die Akademie vir Wetenskap in Suid-Afrika (Sage) verteenwoordig, het vroeër vandeesmaand hul kommer uitgespreek oor seismiese opnames wat vir die Indiese en Atlantiese Oseaan beplan word en gevra dit moet gestaak word totdat diepgaande studies oor die aard van die oseane gedoen is.