Die Kruger het verlede jaar ’n multimiljard-regrukprogram aangekondig waarvan ’n groot gedeelte begroot is vir toerisme-infrastruktuur. Hoekom lyk sommige van die kampe steeds so vervalle? Carla Lewis stel ondersoek in.
Wanneer dit by die Krugerwildtuin kom, voel Suid-Afrikaners ’n vorm van eienaarskap.
Benewens dat ons belastinggeld veronderstel is om die reservaat te help onderhou, lê daar diep herinneringe in die wildtuin. Dink maar aan skottelbraai-ontbyte by piekniekplekke terwyl jy vir roofvalke koes en skoolvakansies onder die skadu van kameeldorings. Die gedenkbankies by Olifantsruskamp getuig ook van vele besoekers se diep liefde vir die wildtuin.