Noordwes se onderwysdepartement sê hy maak goeie vordering met die verbetering van infrastruktuur by skole te midde van die Menseregtekommissie (MRK) se ondersoek na die toestand van skole in die provinsie.
Dít nadat die MRK sedert Maart vanjaar bewerings van onvoldoende infrastruktuur by openbare skole in Noordwes ondersoek. Die kommissie het vroeër in ’n mediaverklaring gesê hy het verskeie klagtes ontvang dat infrastruktuur by skole nie aan tersaaklike wetgewing, beleid, norme en standaarde voldoen nie. Van die klagtes gaan oor geboue wat vervalle is, te min klaskamers, asbesdakke en gebrekkige toegang tot water en basiese sanitasiegeriewe.
Zama Luthuli, MRK-woordvoerder, het Donderdag gesê die kommissie is nog besig om ’n verslag saam te stel en kan nie nou al sê wanneer dit uitgereik sal word nie. “Ons hou ook dop of die onderwysdepartement ondernemings nakom wat hy gemaak het tydens sy voorlegging aan ons. Die departement het onder meer gesê hy het reeds kontrakteurs aangewys (om van die probleme op te los).”