’n Koshuisvader van die Noordwes-Universiteit (NWU) moes verduidelik waarom hy twee afsonderlike etes met studente gereël het – een vir wit inwoners en die ander vir bruin en swart inwoners – nadat studente daaroor gekla het.
Mario Chauque, hoof van die Veritas-manskoshuis op die Potchefstroom-kampus, het inwoners in ’n uitnodiging op ’n interne WhatsApp-groep genooi na ’n ete saam met hom in die Dampad-eetsaal, agter die koshuis. Die datums van dié etes, lui die uitnodiging, is “(vir) swart en bruin studente die 3de Augustus (en) wit studente die 4de Augustus”.
“Die toekoms van Veritas lê in studente se hande en daarom wil die huisouer afsonderlik tyd deurbring met die twee groepe, met ’n finale vergadering wat albei groepe insluit om ’n oplossing vir ons geliefde Veritas te lewer.”