Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het die ouditeur-generaal gevra om ondersoek in te stel na die bedrag van meer as R431 miljoen wat sy departement binne drie maande aan die ontsmetting van skole in Gauteng bestee het.
’n Bedrag van R431 274 959 is tussen Junie en Augustus 2020 betaal om skole skoon te maak en te ontsmet.
Luidens ’n verslag deur die departement se direktoraat vir infrastruktuurbestuur kos dit gemiddeld sowat R250 000 om ’n skool te ontsmet. Altesaam 1 396 laerskole, 616 hoërskole, 65 gekombineerde skole en 128 skole vir leerlinge met spesiale behoeftes val onder die Gautengse onderwysdepartement, terwyl 38 ander geboue, waaronder die hoofkantoor en distriksgeriewe, ook deur die departement gebruik word.