Tussen Oudtshoorn en Prins Albert se uitgestrekte skaapplase is ’n paar kinders aan die speel in die Karoo-son. Dit is pouse by die Seekoegat VGK Primêre Skool.
Maar as dit van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) afhang, sal daar kort voor lank nie meer kinderstemme opklink in hierdie wye landskap nie. Die departement het die 115 jaar oue Seekoegat einde verlede jaar gesluit.
Ouers van die leerlinge, werkers van die omliggende skaapplase wat vir tot vier geslagte lank skoolgegaan het, skop egter nog vas. Hulle sê hul kinders gaan nêrens nie.