Onderwys is die grootste gelykmaker in enige samelewing. So het dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, Woensdag op die bekendstelling van ’n aanlyn stelsel vir skoolaansoeke in die provinsie gesê.
Hy is oortuig daarvan dat dié stelsel daartoe sal bydra dat elke kind van skoolgaande ouderdom wel onderrig ontvang en dat ouers nie vir ure – selfs van die vroeë oggendure af – in rye moet staan om vir hul kinders by skole aansoek te doen nie.
Hy sê 95% van kinders van skoolgaande ouderdom woon wel ’n skool in die Noord-Kaap by en dat die bywoningsyfer tot 100% moet styg.