Een van die grootste uitdagings vir skolebestuur is konflik tussen nasionale en provinsiale regulasies en daarom moet daar ernstig besin word oor die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (die Bela-wetsontwerp).
So sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), na aanleiding van die voorstel dat die mag oor openbare skole se taal- en toelatingsbeleid uit die hande van skoolbeheerliggame geneem moet word.
“Elke provinsiale onderwysdepartement het ’n ander interpretasie van die nasionale wetgewing. Nie net is dit soms lomp nie, maar in baie gevalle druis dit direk in teen die gees van die Suid-Afrikaanse Skolewet en ander nasionale regulasies.”