Lede van die Universiteit Stellenbosch se fakulteit vir lettere en sosiale wetenskap het Donderdag in ’n sterk bewoorde verklaring gesê hulle vertrou dat die eerstejaarstudent Theuns du Toit so gou moontlik tot orde geroep, geskors en toepaslik gestraf sal word.
Die lede van die fakulteit sê om van Du Toit se optrede die afgelope naweek in die koshuis Huis Marais te verneem, is skokkend en afgryslik.
Die verklaring spruit uit die voorval waarin Babalo Ndwayana (20), ook ’n inwoner van Huis Marais, Sondag omstreeks 04:00 wakker geword en gesien het hoe Du Toit op sy lessenaar, waarop sy boeke en skootrekenaar was, urineer. Ndwayana het ’n video daarvan gemaak.