Een Wes-Kaapse skool is Maandag deur ouers ontwrig en nog twee gesluit vir ontsmetting toe die meeste skole in die provinsie leerlinge terugverwelkom het in ooreenstemming met die nasionale beleid van infasering.
Kerry Mauchline, woordvoerder van Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, sê dinge het Maandag betreklik glad verloop.
Buiten twee skole wat gesluit is vir ontsmetting nadat ’n positiewe koronavirusgeval by elk aangemeld is, is nog ’n skool ontwrig deur ouers wat wou hê dat hulle kinders skool bywoon op ’n dag wat nie vir die spesifieke grade geskeduleer is nie (volgens die skool se tydelike hersieningsplan).