Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het ’n ondersoek van stapel gestuur na bewerings van wanadministrasie ten opsigte van die toekenning van honneursgrade aan die Fort Hare-universiteit in die Oos-Kaap.
Luidens ’n verklaring van die SOE ondersoek hy ook vier tenders by die universiteit wat na bewering op onreëlmatige wyse toegeken is.
Kaizer Kganyago, SOE-woordvoerder, sê in ’n verklaring pres. Cyril Ramaphosa het twee nuwe proklamasies onderteken wat die SOE magtig om bewerings van korrupsie en wanadministrasie in die sake van die Fort Hare-universiteit en die departement van openbare werke en infrastruktuur te ondersoek, en om enige finansiële verliese wat die staat weens korrupsie en nalatigheid gely het, te herwin.