Die Universiteit Stellenbosch (US) het ’n vennootskap aangekondig met edX, een van 2U se voorste aanlyn leerplatforms ter wêreld.
Volgens die US beteken dit dat hy as ’n edX-vennoot kursusse ten volle aanlyn kan aanbied deur middel van ’n platform wat tans deur meer as 44 miljoen studente in 196 lande gebruik word. Die eerste kursus sal in Julie vanjaar aanlyn beskikbaar wees.
Die StellenboschX-kursusportefeulje (wat op die edX-platform gehuisves word) sal ’n wye reeks vakgebiede insluit. Die portefeuljes sluit betaalde professionele sertifikate en oop kursusse in wat gratis voltooi kan word.