Die uitvoerende komitee (UK) van die Universiteit Stellenbosch (US) se konvokasie het gewaarsku dat die universiteit ’n “onkreukbare ondersoek en dissiplinêre proses” moet volg ten opsigte van die Huis Marais-voorval.
Die konvokasie, wat alle oudstudente en huidige akademiese personeel verteenwoordig, het Maandag in ’n verklaring sy stilte verbreek oor die voorval waar ’n Huis Marais-inwoner glo op ’n medestudent se eiendom geürineer het.
Dié kwessie, en ’n beweerde verkragting verlede week in ’n ander manskoshuis, Majuba, het die kampus die afgelope dae geskud, en die US het sy eksamen selfs met ’n week uitgestel.