’n Student van die Universiteit Stellenbosch (US) wat in die hof verskyn het in verband met die beweerde verkragting van ’n vroulike student in die Majuba-manskoshuis, is reeds uit dié koshuis geskors en mag ook nie in enige ander koshuis van die universiteit woon nie.
Die 18-jarige US-student is na bewering Dinsdag omstreeks 22:30 in die Majuba-manskoshuis verkrag toe sy die koshuis besoek het.
Die saak is Woensdag by die polisie aangemeld en die verdagte is dieselfde dag in hegtenis geneem. Hy het Donderdag in die landdroshof in Stellenbosch verskyn en is op borgtog van R1 000 vrygelaat. Die saak is uitgestel tot 29 Junie en hy mag nie met die klaer kontak hê nie.