Om ten volle te rehabiliteer, sal Oscar Pistorius die spoke van sy verlede moet konfronteer en aanspreeklikheid aanvaar vir sy dade. Hy sal ook sy veeleisende houding moet verander en besef hy is “net soos elke ander oortreder”, sê kenners.
Die tronkomgewing is egter nie ideaal vir rehabilitasie nie en Pistorius sal sy kaarte reg moet speel om nie vyande te maak nie.
“Oscar sal sy aggressie, woede en sin van eiegeregtigheid in die tronk moet aanpak voor hy ten volle gerehabiliteer kan word,” sê prof. Anni Hesselink, ’n kriminoloog verbonde aan Unisa.