’n Aangepaste definisie wat Afrikaans as inheemse taal in die omstrede taalbeleidsraamwerk vir openbare hoëronderwysinstellings sal weerspieël, sal in die Staatskoerant gepubliseer word, sê dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderrig, wetenskap en innovasie.
Hy het dié versekering aan dr. Leon Schreiber, DA-LP, in ’n parlementêre antwoord gegee.
“Ek hoop dit sal hierdie saak eens en vir altyd afsluit en ons aandag opnuut herfokus op die hooftaak op hande – om waardigheid en respek te bring aan al ons histories gemarginaliseerde inheemse tale, soos die Grondwet van die Republiek van ons vereis,” sê Nzimande.