Agri SA is gekant teen onteiening teen nulvergoeding én onregstreekse onteiening.
Dié ontkenning deur Annelize Crosby, hoof van grond- en regsake by dié landbou-organisasie, Woensdag is na aanleiding van ’n maatskaplik-ekonomiese studie oor die onteieningswetsontwerp – wat ná ’n (Paia-)aansoek deur die organisasie Sakeliga verkry is – en waarin “beweer word dat Nedlac die wetsontwerp in sy geheel gesteun het en dat Agri SA ook die wetgewing ‘versigtig ondersteun’ ”.
“Hierdie bewerings is onwaar. Agri SA se teenkanting teen sekere aspekte van die wetsontwerp, veral die definisie van ‘onteiening’, wat die deur oopmaak vir allerlei beperkings op eiendomsreg sonder vergoeding (onregstreekse onteiening), en artikels 12(3) en (4), wat voorsiening maak vir nulvergoeding, is deurgaans baie duidelik oorgedra.”