Die ANC-alliansie is uiters bekommerd oor die ernstige ekonomiese én breër maatskaplike gevolge wat die Covid-19-pandemie op Suid-Afrika se miljoene armes, werkloses en laer middelklas gaan hê.
Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, en sy alliansievennote in die SAKP en Cosatu verwerp ondanks bogenoemde bekommernisse egter steeds enige voorstelle van onder meer Tito Mboweni, minister van finansies, dat die land die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) óf die Wêreldbank vir finansiële bystand weens dié krisis moet nader. Dít is omdat dit volgens hulle Suid-Afrika se soewereiniteit in gevaar stel.
Bogenoemde is van die besluite op ’n virtuele vergadering van die ANC-alliansie se sekretariaat wat die afgelope Donderdag gehou is om onder meer die impak van die Covid-19-pandemie op die land en ekonomie te bespreek.