Die kiesafdelingstelsel wat ’n dinkskrum onder leiding van Roelf Meyer verlede week voorgestel het, kan volgens die ANC stukrag gee aan die regering se nuwe distriksontwikkelingsmodel.
Die party koppel dié vraagstuk ook aan die moontlikheid om die munisipale verkiesings wat tussen Augustus en November moet plaasvind, saam met nasionale en provinsiale verkiesings te hou.
Meyer en sy groep het ’n kiesafdelingstelsel voorgestel wat die land in 66 kiesafdelings verdeel waar parlementslede proporsioneel verkies word. Die kiesafdelings word afgebaken op grond van distriksgrense en metrogrense – dieselfde gebiede waarmee die regering verlede jaar begin het om die chaotiese dienslewering van staatsdepartemente en plaaslike owerhede te integreer.