Huidige trajekte en modellerings voorspel dat die ANC se steun ook in die nasionale verkiesing in 2024 tot onder 50% sal val.
Die party erken dit self in sy besprekingsdokument, “Die veranderende magsewewig ten opsigte van die Suid-Afrikaanse transformasie-agenda”, wat Vrydag uitgereik is.
Luidens die dokument is die redes vir die voortdurende daling in verkiesingsteun vir die regerende party die “bedrukte nasionale bui weens Covid-19, die verwoeste ekonomie en werkloosheid, die toename in armoede en honger, die Julie-onluste van verlede jaar, wantroue in die regering, enorme diensleweringsmislukkings insluitend water en elektrisiteit, korrupsie, leierskapskonflikte, swak en nie-bestaande primêre partystrukture en die ANC se finansiële probleme”.