Die ANC en sy alliansievennote het hul steun aan die Grondwet en die regbank herbevestig.
“Ons wil herbevestig dat ons hierdie dokument waarin die handves van menseregte verskans is, ondersteun. Ons herbevestig ook ons steun aan die regbank en distansieer ons van enigiets wat dit weerspreek,” het Ramaphosa Sondagmiddag in sy hoedanigheid as ANC-president gesê toe hy die lekgotla van ANC se nasionale uitvoerende komitee afgesluit het.
Ramaphosa se uitlating kan gesien word as ’n hou na Lindiwe Sisulu, minister van toerisme, ná haar meningstuk waarin sy die Grondwet, oppergesag van die reg en die regbank erg aanval.