Die verdeeldheid in die ANC het ’n nuwe hoogtepunt bereik met die Phala Phala-aangeleentheid, maar volgens kenners is die kanse dat dié party sal skeur, bra skraal.
Die ANC sal eerder probeer om die proses te bestuur as wat hy sal toelaat dat dit handuit ruk en op ’n openlike skeuring afstuur. Dít kan tot ’n vroeë verkiesing lei en leiers in die party is bang dat hulle hul mag kan verloor as die ANC in ’n chaos verval.
Gerugte oor ontevredenheid onder die groep vir radikale ekonomiese transformasie (RET) doen die ronde sedert die nasionale uitvoerende komitee (NUK) Maandag besluit het om in die parlement teen die aanvaarding van die Phala Phala-verslag te stem.