Hoewel daar nie die nodige tweederdemeerderheid in die parlement behaal is om art. 25 van die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak nie, is die stryd om eiendomsreg nog lank nie verby nie, sê Vrystaat Landbou (VL).
Luidens ’n verklaring wat VL Dinsdag uitgereik het, is die volgende uitdaging om ook die Onteieningswetsontwerp in sy huidige vorm te stop. Dié wet, wat vroeg volgende jaar voor die parlement kan dien, het net ’n 50%-meerderheid nodig om aanvaar te word.
“Danksy grootskaalse druk uit die gemeenskap en burgerregteorganisasies kon die ANC nie daarin slaag om art. 25 van die Grondwet te verander nie.