Meer staatskaping- en korrupsiesake soos dié waarby die vermeende Gupta-luitenant, Iqbal Sharma, en ander na bewering betrokke was, kan binnekort in die howe verwag word, het Sindisiwe Seboka, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se Ondersoekende Direktoraat (OD), Sondag gesê.
Seboka het ook bevestig dat adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolgings, die afgelope twee maande die sweep agter top-NVG-aanklaers “klap” om die vervolging in korrupsie- en staatskapingsake dringend te bespoedig.
“Een van die hoofprioriteitsake wat ons as die OD aan die NDOV vir vervolging voorgelê het, is die R1,4 miljard se bevriesing van bates in die Eskom-saak in Mei vanjaar. Ons het daarmee ons eerste teiken bereik ten opsigte van batebeslaglegging.