Internasionale hulp aan Suid-Afrika en ander Afrika-lande wat erg geraak is deur die gesondheids- en ekonomiese krisis weens die koronaviruspandemie, sal die hooffokus wees op ’n beraad Dinsdag in Frankryk.
Die presidensie het Sondag bekend gemaak dat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand op uitnodiging van pres. Emmanuel Macron na Frankryk vlieg om daar deel te neem aan die Beraad oor die Finansiering van Afrika-ekonomieë.
Ramaphosa en ander Afrika-staatshoofde sal die beraad saam met Europese staatshoofde en leiers, verteenwoordigers van die G7- en G20-lande, sowel as hoofde van internasionale instellings soos die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), die Wêreldbank en die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (Oeso) by die Grand Palais Ephémère bywoon.