Lindiwe Sisulu, minister van toerisme, is Sondag by monde van pres. Cyril Ramaphosa deur die ANC-alliansie gerepudieer.
Ramaphosa het as ANC-president die lekgotla van die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) wat die naweek gehou is, amptelik afgesluit en gesê “daar is dele van die demokrasie wat bedreig word weens die verlies aan ’n etiese kompas en morele rigting”.
Die ANC en sy alliansievennote, die SAKP en Cosatu, het volgens Ramaphosa egter hul steun vir die Grondwet, die Handves van Regte en die regbank op die lekgotla herbevestig en “ons distansieer ons van narratiewe waarmee probeer word om die transformerende bedoelings en suksesse daarvan te ontken”.