’n Nood-aksieplan om gendergeweld daadwerklik te takel is Woensdag deur pres. Cyril Ramaphosa aangekondig.
As deel van dié plan, wat oor die volgende ses maande in werking gestel word, is ’n bykomende R1,1 miljard in die huidige boekjaar daarvoor bewillig.
Ramaphosa het Woensdag op ’n buitengewone gesamentlike sitting van die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies gesê Suid-Afrika is vir vroue een van die onveiligste lande ter wêreld om in te wees. Misdaad teen vroue hier is op vlakke wat vergelykbaar is met lande wat in ’n oorlog gewikkel is.