DA-amptenare in die kamp van Mbali Ntuli sê die party se besluit om haar versoek te weier vir ’n openbare debat met John Steenhuisen gaan haar veldtog nadelig beïnvloed.
Boonop mag Ntuli en Steenhuisen, die kandidate vir die DA-leierskap, ook nie meer hul veldtog in die media voer nie.
“Hierdie besluit is ook voordelig vir John,” sê ’n DA-LPW wat Ntuli ondersteun en op voorwaarde van anonimiteit praat. “Ons glo nie John sal sy posisie as tussentydse leier misbruik om sy veldtog so te voer nie, maar dis ’n feit dat die tussentydse leier baie meer aandag in die media kry as ’n LPW.”