John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, en Mbali Ntuli, ’n DA-lid van die provinsiale wetgewer in KwaZulu-Natal, sal in ’n tweestryd gewikkel wees vir die toppos wanneer die party se federale kongres einde Oktober nuwe leiers kies.
Helen Zille en Mike Moriarty gaan mekaar pak vir die pos van voorsitter van die party se federale raad.
Die DA se federale kongresvoorsitters, Greg Krumbock en Desiree van der Walt, albei parlementslede, het Dinsdag die name van kandidate aangekondig wat op 31 Oktober en 1 November hulle verkiesbaar sal stel vir die DA se federale kongres.