Die DA moet te midde van die dramatiese gebeure die afgelope week nou op sy ondersteuners, raadslede en aktiviste op grondvlak fokus om húlle te verseker dat die party steeds alles in die stryd werp omdat Suid-Afrika sonder die DA nie suksesvol kan wees nie.
Jacques Julius, tussentydse DA-hoofsweep, het dít Donderdag by die parlement gesê kort nadat hy die pos tydelik oorgeneem het.
Dit volg op die onverwagse bedanking van Mmusi Maimane as parlementêre leier en uit die party. Maimane het Woensdag toe hy as partyleier bedank het, nog te kenne gegee dat hy tot einde vanjaar in die parlement sal aanbly.