Die nuwe taalbeleidsraamwerk vir openbare hoëronderwysinstellings “diskrimineer nie teen enige Suid-Afrikaanse taal, amptelik of nieamptelik, nie”, sê pres. Cyril Ramaphosa.
Die regering het ’n regsmening daaroor ingewin wat bestudeer word, sê Ramaphosa in ’n geskrewe antwoord aan dr. Leon Schreiber, DA-LP wat parlemente vrae daaroor aan die president gestel het.
“Op grond van die president se antwoord gaan die DA ’n versoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) indien om hierdie mitiese regsmening waarna hy verwys in die hande te kry as deel van ons veldtog om Afrikaans sowel as Khoi, San en die Nama-tale as volwaardige inheemse Suid-Afrikaanse tale te laat erken,” het Schreiber aan Netwerk24 gesê.