Die DA moet nou alles in die stryd werp om kiesers te oortuig om in die munisipale verkiesing van 2021 vir dié party te stem, sê John Steenhuisen, tussentydse leier.
Hy het Sondag in ’n toespraak aan afgevaardigdes van die DA se federale kongres gesê kiesers moet oortuig word om in te koop vir die DA se visie vir Suid-Afrika.
Hy wys daarop dat die DA op sy onlangse beleidskonferensie klarigheid gekry het oor wat die party wil vermag deur ’n inklusiewe ekonomie te bou wat beleggersvriendelik is en die beginsel van nierassigheid te aanvaar.